|
“Hoe lank beplan jy om te bly?” “Net so lank dit nodig is om op die pad te bly.” “Waarheen is jy oppad?” “Ooste toe.” “Is dit ver?” “Baie.” “Hoe lank is jy al op die pad?” “Baie…” het sy gesê, wyn gesluk, gehik en haar oë gevryf. “Maar ek was ook al baie van die pad af.” “Jy lyk moeg.” “Is dit ‘n kompliment?” “Uitnodiging,” het ek gesê en met my groottoon teen haar knie gedruk. “Ek is nog jonk.” “Jy hoef nie te betaal vir die kamer nie.” Sy het die kamerdeur oopgelos. Buite het die wind gaan lê. Sy maak nooit die deur toe nie, selfs nie as sy uit is nie. Eenkeer het ek die deur gesluit en haar naam op die sleutelhouer geskryf. Maar toe sy terugkom was sy baie kwaad daaroor. As ek haar daaroor uitvra sê sy net: “Dit is nie my kamer nie.”
Baie aande gaan ek op na haar kamer en dan kuier ons tot diep in die nag. Terwyl ek my naels kou vertel sy my van haar reise en van die pad. Dan kou sy weer haar naels en luister na my stories oor My Kop. Oor hoe ek die plek gekry het en wie almal al hier oornag het of aangebly het. Wie in watter kamers dood is of gebore is, en watter eienaardige dinge al hier vergeet is, of gesteel is. “Die plek val uitmekaar.” “Jy hoef nie hier te bly nie.” “Dis darem veilig.” “Maar jy vind dit vervelig?” “’n Bietjie.” “Kan ek vir jou nog wyn skink?” “’n Bietjie.” Sy drink nogal baie wyn. Dit is lekker om haar hier te hê. Soms wanneer sy nie hier is nie, voel dit sommer asof die hele gebou leeg is. Boonop weet ek nooit of sy wel gaan terugkom nie. Daarom sal dit beter wees om meer loseerders in te kry; hier is nog baie leë kamers in My Kop. Ruan Kemp
|
To the Top | Previous Page | Next Page © MEANWHILE |